Kantoor: (013) 697 1191 | faks: (013) 697 1195 info@931fm.co.za

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 31 Julie 2017

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 31 Julie 2017
(Skakel Maandae en Woensdae net na 12:00 in vir jou resepte saam met Mariël Erwee)

Jogurtsous

* 2 Eetlepels botter
* 4 Eetlepels koekmeel
* 150 ml Houer gewone jogurt / Room
* 500 ml Houer karringmelk (2 koppies)
* 1 Teelepel droë pietersielie
* 2 Teelepels droë grasuie
* ¼ Teelepel sout
* ¼ Teelepel peper

1. Smelt die botter oor lae hitte in ’n kastrol en roer die meel by.
2. Roer dit vinnig totdat die klonte opgelos is en voeg die res van die bestanddele by.
3. Laat dit vir ’n minuut of twee saggies prut (die jogurt sal skif as daar te veel hitte is) en sit voor saam met die vleis 
(GRIEKSE SKAAPBOUD OOR DIE KOLE - Hoofgereg)

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 26 Julie 2017

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 26 Julie 2017
(Skakel Maandae en Woensdae net na 12:00 in vir jou resepte saam met Mariël Erwee)

GRIEKSE SKAAPBOUD OOR DIE KOLE

* 1,5 kg Ontbeende, gevlekte skaapboud
* ¼ Koppie olyfolie
* ¼ Koppie vars suurlemoensap (verkieslik nie gebottelde suurlemoensap nie)
* 1 Teelepel gedroogde roosmaryn
* 1 Knoffeltoontjie, gekneus (as jy van baie knoffel hou, kan jy meer bysit)
* Sout en peper na smaak

1. Sit die skaapboud in ’n plastiekbak met ’n deksel in die kamyskas.
2. Meng al die bestandele goed saam, behalwe die sout & peper, en marineer die skaapboud oornag
3. Draai die boud een maal om. 
4. Sit die vleis op ’n rooster en braai dit oor lae hitte vir ongeveer twee uur of tot dit gaar genoeg is volgens jou smaak.
5. Sprinkel sout en peper oor en sit voor met JOGURTSOUS
(Wenk: Vleis sny makliker in skywe as jy dit vir sowat 10 minute laat “rus” voordat jy dit sny.

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 24 Julie 2017

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 24 Julie 2017
(Skakel Maandae en Woensdae net na 12:00 in vir jou resepte saam met Mariël Erwee)

WARM AARTAPPELSLAAI
Lewer 6 porsies

* 1kg (6 groot) aartappels
* 1 pakkie gekapte spek
* 125ml kookolie
* 2 uie in blokkies gesny
* 125ml blatjang
* 125ml asyn
* 250ml melk
* 15ml mielieblom

1. Kook aartappels in skil, in soutwater tot gaar
2. Trek skille af, sny in blokkies en hou warm
3. Braai spek in 25ml olie tot gaar, skep uit en hou warm saam met aartappels
4. Braai uie in dieselfde pan tot gaar
5. Voeg res van olie, blatjang en asyn by, en kook ongeveer 2 min. sonder deksel
6. Meng mielieblom en melk, gooi stadig by uiemengsel terwyl jy dit vinnig inroer, roerkook vir verdere 2 min
7. Meng aartappels en spek, gooi uiesous oor en meng liggies
8. Hou in lou-oond tot benodig.

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 19 Julie 2017

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 19 Julie 2017
(Skakel Maandae en Woensdae net na 12:00 in vir jou resepte saam met Mariël Erwee)

SIMBA CHIPS GEREG

* 4 eetlepels botter 
* 3 eetlepels koekmeel
* 375ml warm melk 
* 250ml ham of gebraaide spek
* 2 x 375ml gekrummelde skyfies (simba tjips - die kaas en uie en bbq werk baie lekker) 
* 375ml gerasperde kaas

Voorverhit die oond tot 180C. 
1. Maak ‘n witsous van die botter, meel en melk. 
2. Gooi die ham, kaas en 1 pak skyfies by. 
3. Gooi die helfte van die ander pak skyfies onder in ‘n bak, skep die witsous bo-op, bedek met ekstra kaas en orige skyfies (gemeng)
4. Bak 15–20 minute.

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 17 Julie 2017
(Skakel Maandae en Woensdae net na 12:00 in vir jou resepte saam met Mariël Erwee)

MAKLIKE KAAS-BROODSTOKKIES

* 1 voorbereide pizza kors (reeds-gemaakte brooddeeg)
* 1 eetlepel gesmelte botter
* ½ koppie provolone (Italiaanse) kaas
* 1 eetlepel parmesaanse kaas
* 1 eetlepel gedroogte basiliekruid
* ¼ teelepel knoffel sout

Voorverhit die oond tot 220°C
1. Rol die deeg uit op gesmeerde bakpapier en verf met botter
2. Sprinkel die kase en speserye eweredig oor die deeg
3. Met 'n pizza snyer, sny die deeg in 12 lang stukke
4. Sny dit in die helfte om 24 stukke te hê (moenie skei nie)
5. Bak vir 10 - 12minute of tot goudbruin
6. Sny weer oor elke lyn en skei van die bakpapier
(Wenk: Bedien die kaas stokkies warm met 'n brandsous)

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 12 Julie 2017 (Skakel Maandae en Woensdae net na 12:00 in vir jou resepte saam met Mariël Erwee)

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 12 Julie 2017
(Skakel Maandae en Woensdae net na 12:00 in vir jou resepte saam met Mariël Erwee)

GEMMERROLLETJIES MET ROOM
Lewer 15-20 rolletjies
Bereiding: 20-30 minute
Baktyd: 8-10 minute

• 90 g botter
• 80 ml (¹∕³ k) suiker
• 160 ml (²∕³ k) gouestroop
• sap van ½ suurlemoen
• 180 ml (¾ k) koekmeel
• 5 ml (1 t) fyn gemmer
• 30 ml (2 e) brandewyn
• 200 ml room, styf geklits

Voorverhit die oond tot 180 °C. 
1. Smeer ’n groot bakplaat deeglik met botter.
2. Smelt die botter, suiker, stroop en suurlemoensap saam in ’n kastrol oor matige hitte.
3. Verwyder van die hitte en klits die meel, gemmer en brandewyn by. 
4. Laat die mengsel heeltemal afkoel. 
5. Drup teelepels vol van die mengsel op die bakplaat. 
6. Laat ’n ruimte van 10 cm tussen elke hopie, want die mengsel loop plat. 
7. Bak 8-10 minute of tot goudbruin. Skakel die oond af en maak die deur oop.
8. Smeer ’n houtlepel se steel deeglik met botter. 
9. Lig een koekie op ’n slag met ’n eierspaan en draai dit om die houtlepel-steel. 
10. Laat gly dit van die steel af en laat dit op ’n afkoelrak afkoel. 
11. Herhaal die proses tot al die koekies gerol is. 
12. Vul die rolletjies met die room net voor dit voorgesit word.
(WENK: Hou die koekies in die oond voor jy dit rol om te verseker dat dit warm bly en nie hard word nie.)

10/07/2017

MAKLIKE MIDDAGMAAL - 10 Julie 2017
(Skakel Maandae en Woensdae net na 12:00 in vir jou resepte saam met Mariël Erwee)

Hamvoorgereg 
8 porsies

* bietjie olie
* 1 ui, gekap
* 15 ml (1 e) vars pietersielie, gekap
* 250 g ham, gekap
* sout en peper na smaak
* 250 ml (1 k) room
* 15 ml (1 e) strooisuiker
* 45 ml (3 e) mayonnaise
* 20 ml (4 t) gelatien
* 45 ml (3 e) water
SOUS
- 60 ml (4 e) gekoopte heuning-en-mosterd-slaaisous
- 30 ml (2 e) mayonnaise

1 Verhit olie en soteer ui en pietersielie.
2 Kap ui-mengsel saam met ham, sout en peper in voedselverwerker fyn.
3 Klits room saam met strooisuiker styf. Roer mayonnaise by.
4 Vou hammengsel by roommengsel in.
5 Spons gelatien in water en verhelder oor kookwater. Roer by die hammengsel.
6 Verdeel hammengsel tussen agt klein metaal bakkies wat met water uitgespoel is.
7 Plaas in yskas tot gestol.
8 Sous: Meng bestanddele vir sous en sit voor saam met gestolde hamvormpies